Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

DIE INVLOED VAN EGSKEIDINGS OP DIE GESIN

 

Elizma van der Smit. Kliniese Sielkundige in privaat praktyk in Klerksdorp. 10 Julie 2015.

 

Hier die artikel fokus op die negatiewe impak van egskeidings.  Alhoewel elke omstandigheid uniek is en ons as mense in staat is om positief anderkant uit te kom, is dit wel nodig om te weet wat moontlik kan gebeur en daarom so vooorbereid as moontlik te wees.

 

1. Wat is die invloed van egskeiding op kinders?

 

Egskeiding is meesal baie traumaties vir ‘n kind – vir hom is dit ‘n verlies van sy familie en lewe soos hy/sy dit geken het.  Kinders voel meesal hartseer, kwaad, bang en sukkel om te verstaan hoe hul lewens gaan verander.  Die kind se ouderdom tydens die egskeiding bepaal ook hoe hy/sy sal reageer op grond van wat hul verstaan:

 

Geboorte tot 18 maande: 

  • Babas kan die spanning aanvoel, maar nie verstaan wat dit veroorsaak nie.  Indien die spanning aanhou kan babas geirriteerd en klouerig word, veral rondom nuwe mense.  Hul kan gereelde emosionele uitbarstings beleef en kan regresseer en tekens van ontwikkelingsagterstande toon.

 

Wat om te doen?

  • Tydens hierdie ouderdom het kinders die veiligheid van ‘n roetine en ‘n bekende omgewing nodig.
  • Maak seker dat slaap en eetroetines dieselfde bly voor en na die egskeiding.
  • Voorsien aan jou kind sy gunsteling speelgoed en sekuriteits items.
  • Spandeer ekstra tyd met hul met baie drukkies en hou hul styf vas.
  • Vra hulp van friende en familie en kry soveel as moontlik rus sodat jy in staat sal wees om in jou baba se behoeftes te kan voorsien

 

18 Maande tot 3 jaar:

  • Gedurende hierdie tydperk is ‘n kind se band met hul ouers die belangrikste, so enige groot verandering kan baie traumaties geinterpreteer word.  Tydens hierdie ouderdom is kinders self-gesentreerd en sal hul dikwels dink dat hul die rede vir die egskeiding is.  Hul is geneig om te huil en kan meer aandag as normaalweg vereis.  Hul kan ook regresseer en weer duimsuig, glipsies kan voorkom, skeidingsangs beleef en sukkel om te slaap.

 

Wat om te doen?

  • Indien moontlik, werk as ouers saam om ‘n normale, voorspelbare roetine daar te stel wat die kind maklik sal kan volg.
  • Spandeer kwaliteit tyd met jou kind en gee baie aandag.  Vra familie en vriende om dieselfde te doen.
  • Indien jou kind kan praat, praat met hom oor sy gevoelens en lees boeke saam.
  • Verseker jou kind dat jy nie verantwoordelik is vir die skeiding en probleme nie.

 

3-6 jaar

  • Voorskoolse kinders verstaan nie die konsep van egskeiding nie, maak nie saak hoeveel spanning daar in die huis is nie.  Tydens hierdie ouderdom hou kinders daarvan om beheer uit te oefen en kan bitter magteloos voel omdat hul geen beheer oor die uitkoms van die saak het nie.  Net soos kleuters, voel die voorskoolse kind dat hul verantwoordelik is vir die egskeiding.  Hul kan bitter onseker voel oor die toekoms, kan hul woede binne hou of uittdrk, hul kan onaangename gevoelens en idees ervaar en kan ook dikwels nagmerries ervaar.

 

Wat om te doen?

  • Ouers moet probeer om die egskeiding op ‘n positiewe manier te hanteer aangesien die kind die ouer se gemoed en houding sal reflekteer.
  • Voorskoolse kinders het iemand nodig om mee te praat en om hul gevoelens uit te druk.
  • Hul reageer goed op ouderdomstoepaslike boeke oor die onderwerp.
  • Hul het nodig om veilig te voel en benodig die versekering dat hul sal voortgaan om beide ouers te sien.  Stel daarom ‘n skedule vir kuiers op en hou daarby.

 

6-11 jaar

  • Dit is normaal vir skoolgaande kinders om ‘n gevoel van verlating te ervaar na ‘n egskeiding.  Dit voel dikwels of hul ouers hul verlaat en is bekommerd om die ouer wat uittrek, te verloor.
  • Hul sal dikwels fantaseer dat hul ouers weer by mekaar gaan uitkom en glo ook dat hul hul ouers se huwelik kan red.
  • Kinders is ook geneig om een ouer te blameer en hul te skaar by die “goeie” ouer.
  • Hul ervaar baie woede wat op verskillende maniere uitgedruk.  Seuns raak meesal aggressief en meisies word angstig en depressief en sal hulself dikwels onttrek.
  • Fisiese simtome van spanning is algemeen, wat insluit maag- en hoofpyne.

 

Wat om te doen?

  • Aangesien hierdie ouderdom kinders ‘n geweldige gevoel van verlies en verwerping ervaar, is dit belangrik om hul sekuriteit en selfbeeld te herbou.
  • Beide ouers moet kwaliteit tyd met kinders deurbring en hul aanmoedig om oor hul gevoelens te praat.
  • Gee hul die versekering dat hul ouers altyd daar sal wees vir hul en dat die egskeiding nie hulle fout is nie.
  • Waak daarteen om die ander ouer te blameer of sleg te praat en verduidelik dat dit ‘n gesamentlike besluit was.
  • Skep ‘n voorspelbare roetine waarby kinders kan inval- maak nie saak by watter ouer nie.
  • Moeding jou kind aan om betrokke te raak in aktiwiteite wat hul geniet om onttrekking te voorkom en hul selfbeeld te versterk.

 

Tieners

  • Adolessensie is ‘n tydperk waarin ‘n kind sy eie identiteit ontwikkel, apart van sy ouers s’n.  Tydens egskeiding kan hierdie proses geaffekteer word en tieners voel dat hul ouer van hul skei.
  • Gedurende egskeiding is die ouers dikwels selfgeabsorbeerd en nie in staat om baie aandag aan hul tiener te gee nie – iets wat hom/haar geisoleerd, verwerp en bang laat voel.
  • Egskeiding veroorsaak dikwels dat die tiener baie vinnig moet grootword weens ekstra verantwoordelikhede en ook aangesien hul dikwels een of beide ouer se trooster of vertroueling word.
  • Die tiener sal homself dikwels blameer vir die egskeiding.
  • Daarby word die tiener se beeld en lewenskwaliteit soms benadeel, aangesien daar groot finansiële implikasies na egskeidng is.  Dit laat die tiener kwaad en vernederd voel.
  • Tieners kan toenemend die huis vermy en eerder na hul maats draai vir ondersteuning.  Hierdie kan soms lei tot anti-sosiale en destruktiewe gedrag.
  • Tieners kan oormatig krities op die ouers wees en/of hul ignoreer en onttrek as ‘n vorm van straf.
  • Hul akademiese en sport prestasies kan nadelig beivloed word en risiko gedrag soos drank en dwelms kan toeneem.

 

Wat om te doen?

  • Moenie die ander ouer slegpraat of blameer nie.  Tieners ontwikkel beter wanneer hul vry is om elke ouer lief te hê op grond van hul eie ervaring van hul ouer.
  • Moenie die kind as boodskapper of spioen gebruik nie.  Dit kan die tiener laat voel dat hy moet kan kies – ‘n gevoel wat baie skade kan aanrig.
  • Moenie jou kind as wapen gebruik om jou maat ‘n les te leer nie.  Moet onder geen omstandighede toesig weier aangesien jou kind die reg het tot tyd met beide ouers.  As daar ‘n veiligheidsrisiko is, reël kontak onder toesig.
  • Waak daarteen om jou volwasse probleme met jou tiener te bespreek.  Jou tiener is nog besig om te ontwikkel en is nie veronderstel, of gekwalifiseerd, om as terapeut vir jou op te tree nie. Ouers moet ‘n punt daarvan maak om self na hul fisiese en emosionele toestand om te sien en kry hulp waar nodig.
  • Daar is baie mense wat vriende met jou tiener kan wees, maar net twee kan ouers wees.  Hou aan om ‘n ouer, eerder as ‘n vriend, vir jou tiener te wees.  Hou by die roetine, huisreëls, take en verwagtinge.  Waak daarteen om te kompenseer vir hul verlies deur ‘n “kersvader” te word en jou kind te bederf nie.
  • Modelleer resilience.  As jy dit gesond en proaktief hanteer, is jou kanse baie groter dat jou kind dit ook sal doen.  Leer om vir hulp te vra en om dit te aanvaar.

 

Jong volwassenes:

 

  • Egskeiding kan ‘n jong volwassene se verhouding en toekomstige verhoudings benadeel.  Statistiek toon dat kinders van ‘n egskeiding meer geneig is om self deur ‘n egskeiding te gaan later in hul lewens.
  • Daarby toon navorsing dat die effek van egskeiding op hierdie tydstip in hul lewens hul akademiese funksionering (as betrokke is in leerinstansie), en werksprestasie kan benadeel.  Daarby kan dit ook aanleiding gee tot aggressie, antisosiale gedrag, fisiese gesondheidsprobleme en angs.  Slaapprobleme en depressie kom ook voor.
  • Die jong volwassene ervaar ook verwerping en is baie meer geneig om betrokke te raak in hul ouers se probleme.  Indien die ouers die ander een sleg maak, kan hul die beledigings internaliseer of kant kies.
  • ‘n Geweldige gevoel van verlies is algemeen, aangesien die kind nie meer hul huis of veilige hawe het nie.

 

Wat om te doen?

 

  • Moenie die ander ouer slegmaak nie.  Waak ook daarteen om jou volwasse kind as booskapper of vertroueling te gebruik.
  • Praat baie en doen moeite om vir hul steeds ‘n veilige hawe te skep.
  • Selfsorg is van uiterste belang, as jy ok is – sal jou volwasse kind ook wees.

 

3. Wat is die invloed van egskeiding op 'n pa? Hoe beïnvloed dit sy rol as pa?

 

  • Baie vaders beleef ‘n geweldige verlies en beleef ‘n groter vrees om hul kinders te verloor, in vergelyking met moeders.
  • Pa’s sukkel ook met ‘n gebrek aan ondersteuning tydens hul egskeiding aangesien die fokus selde op die vader val.
  • Mans ervaar meer dikwels ‘n gevoel van minderwaardigheid na ‘n egskeiding, aangesien dit sy beeld as voorsiener vir die gesin benadeel.
  • Mans ervaar aanpassingsprobleme wanneer hul by hul nuwe, onbekende lewensrol moet aanpas en voel dikwels dat hul hul identiteit en selfvertroue verloor het.
  • Volgens navorsing word mans dikwels deur die familie en vriende verstoot wat ‘n geweldige gevoel van eensaamheid veroorsaak.  Laasgenoemde kan lei tot depressie en selfmoord.
  • Hul ervaar ook ‘n verlies van respek deur veral die kinders, uitgebreide families en gemeenskap – sowel as die regssisteem.
  • 60-80 % van mans ervaar geweldige stres, veral finansieel, wat tot slaap- en angsversteurings kan lei.
  • Geskeide pa’s ervaar dat hul beheer verloor het en dat hul moet inval by die ma se verwagtinge en reëls.  Sy status en invloed as pa verminder of val weg, veral omdat hy die kinders baie minder sien.  Laasgenoemde kan geweldige woede veroorsaak.
  • Pa’s voel ook dikwels verwerp deur hul kinders, meesal as gevolg van die invloed van die moeder.  Die pa kan dikwels emosioneel distansieer as gevolg hiervan.

 

 

4. Wat is die invloed van egskeiding op 'n ma? Watter emosionele en ander implikasies is daar vir haar, veral as daar kinders betrokke is?

 

  • Geskeide ma’s ervaar meesal erge finansiële stres aangesien hul sonder die man se salaris vir alles moet sorg.
  • Ma’s wat skei voel seergemaak, eensaam en ongelukkig.  Selfs al was dit hul besluit om te skei, ervaar hul die skade van ‘n verbreekte verhouding vir ‘n baie lang tyd.
  • Aangesien mamma nou baie meer verantwoordelikhede het, kan dit veroorsaak dat sy baie meer stres ervaar en minder tyd met haar kinders spandeer.
  • Geskeide ma’s ervaar geweldige skuldgevoelens in terme van haar kinders se tyd, lewenstyl en emosionele welstand.  Sy voel dikwels asof sy alle vryheid verloor het.
  • Volgens navorsing kan geskeide ma’s sielkundige probleme soos depressie ervaar, kort na egskeiding en ook so lank soos ‘n dekade daarna.
  • Geskeide ma’s kan ook ‘n verlies van status ervaar sowel as ‘n verlies van vriende en familielede.  Daar word steeds ook soms neergesien op geskeide vroue in die gemeenskap en dit is moeilik om sosiaal ingeskakel te bly.
  • Vroue ervaar meesal geweldige angs.  Hul toekoms is onseker en hul het hul sekuriteit en drome verloor.
  • Woede kom ook voor. Woede teenoor die eks man sowel as teenoor die self aangesien hul nie harder aan die huwelik gewerk het nie, of nie vroegtydig die tekens gesien het nie.

 

5. Hoe verander egskeiding die dinamiek van die gesin? Hoe beïnvloed egskeiding gesinsverhoudings?

 

  • Egskeiding verander die ekwilibrium en struktuur van die gesin.  Dit is nie net die man en vrou se verhouding wat verander nie, maar ook die van die kinders en uitgebreide familie.  Geweldige verliese word ervaar in terme van die beeindiging of verminderde kontak met familielede soos nefies, niggies, tannies, ooms, oupa en oumas.
  • Familierolle verander en die enkel ouer moet nou beide rolle as pa en ma inneem wat verwarring en verbittering tot gevolg kan hê.
  • Elke lid van die familie sal sekere kort- en langtermyn effekte ervaar, wat kan insluit depressie, angs en ‘n onvermoë om konflik te hanteer.
  • Baie hartseer en ongemak word ervaar wanneer belangrike geleenthede soos verjaarsdae en kersfees nie meer saam gevier kan word nie.  Selfs gradeplegtighede en troues kan geaffekteer word.

 

6. Waarteen moet ouers veral waak (in terme van die kinders) tydens egskeiding? (Met ander woorde: Wat om NIE te doen nie.)

 

  • Moenie jouself isoleer nie, maar reik uit na mense en wees bereid om vir hulp te vra
  • Waak daarteen om in slegte gewoontes te verval.  As jy verantwoordelik optree, weet jou kinders dat ‘n verantwoordelike persoon na hul sal omsien.
  • Moenie jou eks blameer of slegmaak nie, veral nie voor die kinders nie.
  • Moenie jou kind in die middel van jul probleme plaas deur hom as boodskapper of spioen te gebruik nie.
  • Indien veilig vir jou kinders, moet omder geen omstandighede kontak met die ander ouer probeer beperk nie.
  • Moenie jou kind as jou persoonlike terapeut gebruik nie.
  • Hou by tydskedules en reëls as dit by jou kinders kom.  Wees betroubaar en konstant vir jou kinders.
  • Moenie jou kind soos ‘n gas in jou huis laat voel nie.  Kry die nodige goed om hul gemaklik en tuis te laat voel.
  • Moenie probeer oorkompenseer vir jou kinders se verlies en hul bederf of laat slaplê met die reëls en verantwoordelikhede nie.
  • Moenie te vinnig in ‘n ander verhouding inspring en verwag dat die kinders hul moet aanvaar nie.  Alhoewel dit jou kan laat beter voel, veroorsaak dit verwarring by jou kind.
  • Moenie van jou kind verwag om geheime te hou teenoor die ander ouer nie.
  • Moenie van jou kind verwag om kontak met jou te hou nie, dit is jou werk om seker te maak dat jy ‘n band met jou kind het.

 

7. Hoe kan ouers mekaar, maar ook hul kinders help om die proses vir almal so gemaklik moontlik te maak?

 

  • Ongeag hoe seer of oorweldig jy voel, spandeer kwaliteit tyd met jou kinders.  Dit is erger vir hulle as vir jou.
  • Maak vergifnis ‘n prioriteit.  Indien jy sukkel om jouself en jou eks te vergewe, sal jy nie suksesvol kan aanpas en voortgaan met jou lewe nie.
  • Fokus op jou eie fisiese en geestelike gesondheid sodat jy beskikbaar vir jou kinders en die uitdagings van egskeiding kan wees.
  • Hou die verhouding tussen ouers en kinders warm en positief.
  • Wees ten alle tye geinteresseerd in jou kind se lewe, aktiwiteite en vriende.
  • Moedig jou kind aan om te praat oor hul gevoelens, maar moet hul nie dwing om dit te doen nie.  Stel bronne beskikbaar vir hul as hul nie met jou daaroor wil praat nie.
  • Hanteer jou eie emosies.  Jou buie en woede sal in jou kinders se lewe reflekteer en stres veroorsaak.
  • Vestig ‘n voorspelbare struktuur en roetine in jou huis.  Dit sal jou kinders laat veilig voel.
  • Kry hulp van ‘n professionele persoon as jy sukkel.
  • Spandeer baie tyd met jou kind en gee hom die voortdurende versekering wat hy/sy nodig het.