Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

Hoe weet ek my verhouding is verby?

Deur Elizma van der Smit.

Hierdie artikel her verskyn in die Sarie tydskrif.

 

Alle verhoudings ervaar moeilike tye, maar hoe weet ek wanneer is dit tyd om aan te beweeg?  Jy voel dalk die meeste van die tyd hartseer maar weet nie regtig presies hoekom nie.   Dalk weet jy diep binne jouself dat iets net nie reg is nie. Kyk na die volgende punte: hoe meer punte jy kan afmerk, hoe groter is die aanduiding dat die verhouding homself uitgewoed het:

 

 Jul spandeer nie meer tyd saam nie.  Julle maak planne sonder mekaar en doen nie meer moeite om die ander in te lig of deel daarvan te maak nie. Jy spandeer meer tyd saam met jou vriende/vriendinne en afsprake word dikwels op die nippertjie gekanselleer of daar is voortdurend “iets wat voorval”.  En wanneer daar wel ‘n geleentheid is om tyd saam te spandeer, sit julle passief voor die TV of is besig met jul selfone.  Alhoewel jy jou onafhanlikheid moet behou, moet dit nie voel asof jul verskillende lewens lei nie.

 

Jul praat net die nodigste.  Gesprekke behels net koeitjies en kalfies en sluit nie die heel basiese in soos hoe jou dag was en wat jy beplan vir die naweek nie.  Jul het opgehou om met gevoel te praat en mekaar te komplimenteer, aanmoedig en te waardeer.  Miskien het die noemnaampies verdwyn en hoor jy nie meer so baie “ek is lief vir jou” nie.  Jy stuur dalk meesal smse oor logistieke reelings eerder as om net te laat weet dat jul mekaar mis en lief is vir mekaar.  Jul is nie meer liefies met mekaar nie en daar is geen verskil in hoe jy met jou maat praat teenoor enige van jou ander vriende nie.

 

Jul doen nie meer moeite om romanse lewendig te hou nie.  Dit is waar dat verhoudings baie werk verg, maar dit moet aangenaam en voordelig wees vir die meeste van die tyd.  ‘n Verhouding is veronderstel om jou lewe beter te maak en nie te voel soos ‘n kruis wat jy moet dra nie.  Dalk neem hy nie jou gevoelens in ag nie en sal nie vir jou ‘n drankie ingooi of jou help dra aan iets of selfs skoonmaak nie.  Dit voel vir jou jou maat is net op hom of haarself ingestel.

 

Geen toekomspraatjies.  Indien jul nooit langer as ‘n maand in die toekoms dink nie, kan dit wees dat jy die toekoms vermy aangesien jy nie jouself of jou maat saam in daardie toekoms prentjie kan sien nie.  Jul praat nie oor trou of kinders kry nie en daar is geen verwysing na die “groter prentjie” nie.  Jy is dalk te bang om dit te noem omdat jy onseker voel en hy/sy gooi self geen klippe in daardie rigting nie.  Dalk stel jy uit om ‘n belangrike uitnodiding te aanvaar (soos troue) of om ‘n vakansie te beplan aangesien jy nie seker is of jul nog saam gaan wees nie.

 

Jul baklei aanmekaar. Baklei kan ‘n goeie en produktiewe manier van kommunikasie wees, maar wanneer jy baklei net om te baklei en dit die enigste vorm van kommunikasie is – is dit tyd om aan te beweeg.  Klein onderonsies twee maal per week is algemeen, maar spandeer jul meer tyd om te baklei as wat jul gesonde gesprekke voer en lekker dinge doen?  Baklei jul oor die meeste dinge sonder om dit op te los?  Vra jouself af hoe beleef familie en vriende jul konflik?  Dalk vermy hul jul oor die gedurige konflik?

 

Jul deel nie meer geheime nie. Wanneer jy agterkom dat jy nie meer vir jou maat vertel hoe jy voel nie, want jy weet hy sal nie verstaan nie.  Daarby weet jy dat ook nie wat in jou maat se hart aangaan nie en jy wonder of jy regtig wil weet.  Trek jy dalk jou skouers op wanneer jou maat ongelukkig is en vermy jy of hy om daaroor te praat?  Voel dit of jou maat nie regtig luister nie?

 

Jy kyk anders na hom/haar.  Jy kan nie verby die foute kyk nie.  Klein dingetjies wat jou gepla het word skielik onoorkombare krisesse.  Voel dit of alles wat jy doen jou maat irriteer?  Is jul krities op mekaar en maak seer opmerkings oor die kleinste goed soos hare, te veel makeup, jou klere ens.  Voel dit of jul net op mekaar se foute fokus en dat iemand voel of hy/sy net niks reg kan doen nie.  Is jul sarkasties met mekaar en soms vernederend en blatant ongeskik?

 

Jy kla baie.  Daar is ‘n verskil om problem in die verhouding met ‘n goeie vriend te bespreek en om konstant te kla oor al die dinge wat jou maat verkeerd doen.  Soms sal ons ook nie skroom om dit met enigeeen te bespreek nie en vuil wasgoed in die openbaar te was nie.  Soms sal jy dalk nie eers noem dat daar iemand in jou lewe is nie en sal jy flirt wanneer jy iemand ouliks ontmoet.  Al hierdie dinge reflekteer ‘n gebrek aan respek wat jy vir jou maat het.

 

Jul het al minder, of geen seks nie.  Dit is natuurlik vir ‘n sekslewe om van die passie te verloor na ‘n ruk, maar wanneer jou sekslewe jou ongelukkig en onvervuld laat, is daar probleem.  Wanneer jy nie eers kan onthou wanneer laas jul intiem was nie en of seks vir jou voel soos net nog ‘n item wat ek van die “te doen-lysie” moet aftik, het seks ‘n werk geword eerder as iets wat jy geniet en vertroetel.  Jy voel nie meer aangetrokke tot mekaar nie en dalk voel een van julle verwerp en afgeskeep as gevolg hiervan.  Dalk word jou toenadering nie beantwoord nie en ervaar jy die seer van onvervulde behoeftes.  Dalk is die seks meesal eentonig, sonder werklike meelewing en voel dit “leeg”.  Daar is nie meer “fun” en eksperimentering nie.  Of dalk is seks die enigste ding wat werk tussen julle en dit is al wanneer jy bietjie geliefd voel?

 

Jul glo en werk aan verskillende goed.  Alhoewel jul aanvanklik baie in gemeen gehad het, kom jy al hoe meer agter dat jul doelwitte, belangstellings en waardes nie meer dieselfde is nie.  Soms groei mens in verskillende rigtings sonder dat dit beplan is soos byvoorbeeld wil jou maat die wereld vol reis terwyl jy dalk tuis wil bly en meer tyd met jou familie wil deurbring of om dalk ‘n gesin van jou eie te begin.  Vind jy jouself traag om jou belangstellings met jou maat te deel?  Verskil jul politieke, religeuse en ander sienings soveel dat daar baie konflik is met geen gemeenskaplikheid nie.  Vermy jy dalk om jou sienings te opper as gevolg daarvan?  Dit is heeltemal normaal om verskillende sienings te he, maar wanneer jy dit vir jouself hou is daar ‘n groot gedeelte van wie jy is wat jy nie gemaklik is om met jou maat te deel nie.

 

Daar is nie meer geniet of lag nie, die “fun” is weg.  Geen verhouding is altyd lekker nie, maar as jy meesal verveeld is met jou maat, is jou hart dalk nie in die verhouding nie.  Jy raak nie meer opgewonde oor afsprake of om jou maat na werk te sien nie.  Jy geniet dinge dalk meer saam met jou vriende as saam met jou maat.  Dalk raak jy ook nie opgewonde oor ‘n toekoms saam met die persoon nie, maar voel jy eerder vrees en onsekerheid.  Vang jy jouself dat jy dagdroom oor al die dinge wat jy kan doen as jy nie meer in ‘n verhouding is nie of dalk droom jy oor “die spesiale een” wat jy dalk nog gaan ontmoet of reeds ken.

 

Jul is nie meer getrou aan mekaar nie.  Heelwat verhoudings oorleef ontrouheid, maar wanneer dit ‘n roetine word of wanneer een persoon nie daaroor kan kom nie, is dit tyd om aan te beweeg.  Soms is die vertroue in so ‘n mate verbreek dat dit nie herstel kan word nie.  Soms is jy dalk ook nie noodwendig ontrou nie, maar flirt jy waar jy kan en raak jy opgewonde en “bietjie verlief” in die teenwoordigheid van ander, is dit ‘n teken dat hierdie verhouding uitgedien is.  Voel jy dat hy nie eerlik is, selfs met die kleinste goed soos wanneer hy tuis gaan wees of dat hy sal onthou om ‘n belangrike taak af te handel nie.  Voel dit of jy niks van vetrou wat hy kwytraak nie en vind jy dat jy sy foon of facebook nagaan?

 

Wat kan ek doen?

Ons maak dikwels verskonings vir onsself en ons maat wat nie meer soveel aandag gee nie.  Ons sê vir onsself dat ons vreeslik hard werk of tans deur ‘n moeilike tyd gaan.  Of jy blameer jouself vir al die foute in die verhouding. Ons luister dikwels nie na ons natuurlik instink nie.  Daar is 3 moontlike paaie wat die verhouding kan inslaan:

 

Pad 1:  Ek voer ‘n gesprek met my maat oor die stand van sake en ek maak ‘n belofte aan myself dat ek my kant skoon gaan hou en hard gaan werk aan bogenoemde punte vir ten minste 3 maande (ongeag wat die ander persoon doen).  Ek gaan moeite doen met byvoorbeeld romanse, tyd, kommunikasie en om my perspektief oor die ander persoon te verander.  Ek gaan vasbyt daarmee vir 3 maande en dan weer die verhouding herevalueer.  Indien my verhouding beter is, gaan ek voort met my insette, maar indien dit nie genoegsaam verbeter het nie, moet ek besef dat hierdie verhouding verby is.

 

Pad 2:  Ons byt vas en bly hoop dinge sal beter gaan, maar ons raak al hoe meer onseker en klouerig todat ons ons selfwaarde verloor en die ander persoon respek vir ons verloor.  Dikwels hoop die ander persoon dat hul liefdelose gedrag ons sal druk om die verhouding te beeindig sodat hul nie die vuilwerk hoef te doen nie.  Aanvanklik voel hul skuldig maar later word hul al hoe kwater omdat jy hul skuldig laat voel.  En jy voel dalk al hoe kwater omdat jy misbruik en mishandel voel. Later “haat” hul die vloerlap wat jy geword het soveel dat hul genoeg moed het om die verhouding te beeindig of om ‘n ander verhouding aan te knoop.  Hierdie pad laat beide persone met verbittering wat hul in hul nuwe verhouding sal indra.

 

Pad 3:  Jy besef dat die verhouding nie werk nie ongeag jou insette en besluit om ‘n skoon breuk te maak. As gevolg hiervan gaan jy deur ‘n intense periode van rou en eensaamheid, maar jou intgriteit en selfwaarde bly grootliks intakt.  Jy voel dalk dat jy nooit weer so ‘n persoon sal ontmoet nie, maar jy kies om getrou aan jouself en jou verhoudingswaardes te bly eerder as om iemand te wees wat jy nie is nie.

 

Hoe om’n verhouding te beeindig en aan te beweeg?

 

Moenie verhouding beeindig deur ‘n sms, oproep of email nie.  Doen dit in persoon.

Benader dit nie in woede of pyn nie, maar wees so kalm as moontlik.

 

Fokus op die verhouding en nie die persoon nie.  Laat weet hul wat nie vir jou gewerk het nie deur byvoorbeeld in plaas daarvan om te se jy is “klouerig en onseker”, noem liewers dat jy meer vryheid en onafhanklikheid in jou verhoudings benodig.  Jou maat gaan wil weet hoekom en jy moet bereid wees om die vrae te antwoord so eerlik en sag as moontlik.

 

Moenie valse hoop skep nie soos “miskien kan ons oor 6 maande weer probeer” nie .  Wanner ‘n verhouding verby is, is dit heeltemal verby en daarom moet jy seker maak.  Moenie ‘n deur ooplos bloot omdat dit vir jou gemakliker voel nie.

 

Wees voorbereid vir jou maat se agrumente, reaksies en uitbarstings.  Hou by jou punte en moenie gemanipuleer word om saam met iemand te wees wat nie vir jou goed is nie.  Moenie jou humeur verloor nie.

 

Na die gesprek, distansieer jouself van die persoon en moenie kontak behou nie.  Moenie wag voordat jy hul besittings teruggee nie.

 

Praat daaroor met vriende, familie of ‘n professionele persoon.  Doen eerlike selfondersoek om foute in die toekoms te voorkom.  Moenie jouself afsonder of swak keuses maak net om beter te voel nie.

 

Jy gaan begin wonder of jy die regte ding gedoen het, sou hou ‘n lys van redes byderhand en kyk gereeld daarna wanneer jy begin wonder.

 

Ondersoek nuwe geleenthede en leer meer van jouself.  Doen dinge wat jy nog altyd wou.  Respekteer jou routydperk voor jy aanbeweeg.