Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

Is ek meer as die nommer op my skaal?

Deur Eizma van der Smit


Hoekom is ons so behep met die skaal?

 

Dikwels wanneer ons sekere gesondheidsdoelwitte het, gebruik ons die getalle op die skaal, kleregroottes, kaloriee verbrand, kilometres voltooi ensovoorts as motivering en om ons vordering en sukses te bepaal. Getalle voorsien aan ons ‘n gevoel van beheer en selfvertroue indien die resultate positief is.  Nommers bied wel waardevolle inligting, maar slegs as ons kan fokus op die groter prentjie eerder as die getal op die skaal en laasgenoemde nie gebruik om my waarde as mens te bepaal nie.

Ons beheptheid met die skaal is ook ‘n reflektering van hoe gesond ons selfbeeld is.  Diegene van ons met ‘n negatiewe selfbeeld is geneig om ons liggame met die van ander te vergelyk, ons voel skaamte, angs, selfbewustheid en ‘n verwronge persepsie van ons vorm en grootte.  ‘n Swak selfbeeld kan lei tot ongelukkigheid, emosionele stress, depressie, obsessies met oefen en eet en natuurlik ‘n verhoogde kans om ‘n eetversteuring te ontwikkel.

Ons swak selfbeeld word dikwels gevorm deur ons kultuur en ons familie en vriende se idee van wat skoonheid is.  Die media bombardeer ons ook met onrealistiese beelde wat gewig en grootte betref.  Die boodskap wat ons hoor is dat alle vroue gewig moet verloor anders…..

Ons beheptheid met die skaal kan ook dikwels toegeskryf word aan sekere denkfoute wat ons maak byvoorbeeld:

 

deur net te fokus op die negatiewe in ons lewe en om die positiewe aspekte te ignoreer.  Ons fokus op die een kilogram opgetel, maar “vergeet” die 4 reeds verloor of van die ander positiewe dinge in ons lewe. 

Ons bou ook daarop voort met ‘n volgende denkfout en dit is om die positiewe te diskwalifiseer maw ons voel dat die positiewe goed in ons lewe nie groot genoeg of belangrik genoeg is nie”  (maar die nommer op die skaal is wel!!!??)

Ons oorveralgemeen ook deur te dink dat as ek gewig opgetel het, is alles in my lewe sleg , negatief en is ek ‘n groot  mislukking!  Dit is ‘n denkfout om een negatiewe insident as bepalend vir ons lewe en selfwaarde te gebruik.

 

Praktiese raad.

 

Gooi die skaal weg!  Indien jy nie kan nie, plak ‘n lysie met die volgende vrae bokant jou skaal en herhinner jouself daaraan elke keer as jy jouself geweeg het:

 

Wys die skaal vir my wie ek werklik is?

Wys die skaal vir my hoe ver ek al in my lewe gekom het?

Wys die skaal vir my hoe sterk ek is, fisies en emosioneel?

Wys die skaal vir my die mate van selfvertroue, vrede en geluk wat ek oor die jare bymekaar gemaak het?

Is die getal op die skaal ‘n reflektering van my persoonlikheid en eie wil?

Kan die skaal vir my wys hoe energiek, gelukkig  en gesond ek voel?

Wys die skaal vir my waartoe ek in die lewe in staat is?

 

Meet jou vordering as mens op ander maniere -  soos doelwitte bereik of met die insette van mense in jou binnekring.

Moenie die groter prentjie vergeet nie.  Onthou hoekom jy hierdie reis begin het, maw was dit om in jou kleiner jeans te pas of was dit om beter gesondheid en energievlakke te handhaaf? 

Hanteer teleurstelling en moenie toelaat dit dit jou waarde bepaal of jou perspektief op die groter doelwit laat verloor nie.

Respekteer jou liggaam.  Hy werk baie hard om jou deur elke dag te kry en om jou veilig en gesond te hou.  Jy het ‘n wonderlike bondgenoot in hom en hanteer hom as een!  Doen wat jy kan om gesonder te wees.

Omring jouself deur dinge en mense wat ‘n positiewe invloed op jou lewe het.

Maak ‘npunt daarvan om dinge te geniet en nuwe geleenthede aan te gryp.  Kry balans in jou besige lewe.  Moenie dat die nommer op die skaal jou lewensvreugde steel nie!

Help iemand.  Dit bied ons perspektief en laat ons beter voel oor onsself!

Herstel jou denkfoute.  Verander negatiewe selfspraak in postitiewe stellings wat jy gereeld aan jouself herhaal.  Hou dagboek van alles waarvoor jy dankbaar is.

Herhinner jouself gereeld aan dinge wat jy bereik het en steeds bereik.  Voorbeelde sluit in:

Geleer om te loop, praat, lees ens;

Om ‘n tuin of huishouding te vestig;

Om ‘n kind groot te maak;

Om goeie vriende te maak en te behou;

Om ‘n groot terugslag of siekte te kon hanteer;

Om te leer om kar te bestuur en ‘n lisensie te ontvang;

Om iemand wat hartseer is beter te laat voel;

Mense te help;

Studies of kursusse voltooi;

Om ‘n werk te kon kry en dit onder die knie te kon kry;

Die daaglikse voltooing van noodsaaklike huishoudelike take ens.